Friday, May 29, 2020

Valiant Swart: Die mistyk Boer



Die Mystic Boer (1997) en Maanhare (2002) is vyf jaar uitmekaar uitgereik en is myle ver van mekaar in konspe en uitvoering, al is dit dieselfde naam op die CD omslag. Op die ouer album word die musiek gemaak deur 'n trio en Valiant speel al die kitare en doen dit nogal goed, en het vet pret met sy country rock aanslag. Op die nuwer album word Swart begelei deur 'n reeks musikante en is in dieselfde rustige luim as 'n Jaar in Die Son, die samewerking met Koos Kombuis.

Mystic Boer ly aan al die probleme wat ek met Valiant Swart het. Hy skryf pseudo-digterlike lirieke in die Engelse Afrikaans wat my grensloos irriteer en hy kan of nie wysies skryf nie of hy kan hulle bloot nie sing nie. Die album se eerste snit is 'n bravuro instrumentele nommertjie wat so goed en so vol fors en vertoon is dat mens bang is dat die eerste indruk vernietig gaan word wanneer Mnr Swart uiteindelik begin sing. Gelukkig bly hy stil en laat slegs sy kitaar die praatwerk doen. Dit is die beste ding van hierdie album, en van die ander uit daardie era: die  kitare raas en donder en is ritmies soepel en oormeesterend en mens kry tog daardie ruk en rol gevoel.

Maar die man kan nie sing nie. Hy is op sy beste met 'n wulpse riff en 'n soort van resitasie van sy woorde; wanneer hy wel ppog sing, kom hy sleg kort. Die Valiant Swart Band, met iemand soos Gerald Clarke sou onkeerbaar gewees het.

Die titelsnit was lang jare die laaste nommertjie van enige verhoogoptrede en het epies en bevange geklink as kitaarfees en as mens  nie kon verstaan wat die man sing nie. Ek moet egter erken dat ek altyd gepla was deur hierdie boer fiksasie, wat later ook in Piet Botha se werk tevoorskyn gekom het, omdat dit my laat dink het aan 'n gewapende Boer wat teen die Khakis baklei en nie juis aan die wingerdboer van die Wes-Kaap nie. Hierdie jingoisme was nie vir my nie. Dit was ou nuus en het geen plek gehad in die Suid-Afrika waarin ek woon nie. Nie in 1984 nie en glad nie in 1994 of 1997 nie.

Nou is dit die laaste liedjie op die album, en daar is steeds ietwat van 'n aanwendsel van geforseerde grootsheid daaraan, maar die epiese kwaliteit word verinneweer deur die simpel woorde.

Liedjies soos “Slangdans”, “In Die Transvaal” en “Weeskind van die Weste” is ou bekendes in ander gewaad as waaraan ek gewoond was. Veral “Weeskind” wat met akoestiese kitaarbegeleiding gedoen word, kllink heelwat varser en sterker as voorheen. Dit is die ding van die musiek. Dit maak die album, dit is hoekom mens luister. Dit is hoekom ek vir so lank al die Valiant Swarrt Band se optredes bygewoon het. Dit was goeie, opruiende ruk en rol en dit was goed om te weet dat hierdie Afrikaanse musiek is en nie Myne en Jan is nie.

Vyf jaar na Mystic Boer het Valiant Swart klaarblyklik besluit dat hy nou ouer, meer volwasse en gevestig is as vermaaklikheidsbekende en dus 'n meer rustige album moet maak wat meer by sy volwasse gehoor, wat nie meer sulke luide musiek kan waardeer nie, sal pas. Altans dis hoe dit klink. Die goeie nuus is dat die nuwe sagte stem en meer rustige benadering Swart se stem beter pas en die karige melodieë meer ondersteuning bied.

Die ondersteunende musikante, soos Simon Orange, Schalk Joubert, Anton L'Amour en Barry van Zyl is van die beste wat Suid-Afrika het en hulle werk wonderlik saam met die ster.   Die aksent is op die groove, wat hoofsaaklik lig en swaaiend is, soos iets tussen jazz, swing en backbeat blues. Iets soos “Diep In Die Bos” waar daar samesspel tussen bottelnek kitaar, Hammond orrel en een van die beste ritmeseksies in Suid-Afrika 'n snit skep wat van die beste is wat Swart al ooit opgeneem het. Gelukkig is dit ook hoofsaaklik sonder sy stem, maar omdat hy nie melodie poog sing nie, werk selfs sy bydrae.

Die ding bly dit: as Valiant eenvoudig bly en nie bo sy vermoëns poog  strewe nie, is hy sonder weerga. “Moeilikheid Met Die Man” is een van my gunsteling Valiant Swart opnames omdat dit so vol lewenslus is, so vol brio is en die gebrek aan singvermoë nie saak maak nie aangesien die liedjie se deuntjie so eenvoudig is dat mens dit na een of twee keer se speel maklik onthou en dit singbaar in die stort is.

Daar is nie juis enigiets op óf Mystic Boer óf Maanhare wat mens bybly nadat jy die albums klaar geluister het nie. Die waardering wat mens het vir die musiek oorleef net in daardie paar minute wat 'n spesfieke snit speel.



No comments: