Koos
Kombuis het sy twee strydmakkers (Johannes Kerkorrel en James Phillips) van die
Voëlvryjare oorleef en het dus die luukse om die “ware” verhaal van Voëlvry te
skryf, natuurlik uit sy perspektief en met hom as sentrale protagonis. Daar is
blykbaar 21 bladsye daaroor in die Kombuis outobiografie (waarvan ek nie bewus was nie)
en nou is daar 'n hele boek van 256 bladsye, insluitend die bedankings reg aan
die einde, genaamd Short Drive To Freedom of Die Tyd Van Die Kombi's in
Afrikaans.
Nou
kan Kombuis die grootste Afrikaner jeugrebelliestorie van die afgelope 30 jaar
in sy volle glorie met ons deel.
Of
nie. Soos dit aan die einde van do boek duidelik is, vertel Kombuis steeds nie
die volle verhaal nie. Dit, saam met verskeie feitelike onakkuraathede, maak
die lees van die boek uiteindelik 'n teleurstellende ervaring.
Dit is
bloot toevallig dat ek die Engelse weergawe van die boek gekoop het. Ek was
onbewus van die boek tot ek die Engelse uitgawe in Exclusive Books in die Lifestyles
on Kloof winkelsentrum in Kaapstad raakgeloop het en onmiddellik gekoop het.
Soos dinge in my lewe gaan, het 'n hele paar maande verbygegaan voor ek daarby
uitgekom het om die boek te lees. Toe het ek vinnig daarmee klaargespeel. Dit
is nie 'n dik boek nie en plek-plek lees mens vinniger om net klaar te kom.
Ek
raai dat hierdie memoir in Afrikaans en Engels gepubliseer is sodat dit die
maksimum potensiële lesersmark kan bereik, maar dit is nogtans ironies dat 'n
oorwegende jong Afrikanergedrewe beweging in Engels in herinnering geroep word
deur een van die leidende Afrikaanssprekende persoonlikhede op die
kultuurfront, hetsy alternatief hetsy hoofstroom, van die afgelope 30 jaar.
Ek
moet beken dat Kombuis se arme man se Hunter S Thompson gonzo skryfstyl, die
gedurige toekomsverwysings vir dramatiese effek, die verwysings na sy huidige
lekker lewe en kort sinne en uitroepe my wersenlik irriteer as skryfstyl. Dit
punt is seker dat hy nie in hoogdrawende of ernstige taalgebruik of styl wil
verval nie en dat die memoir bedoel is om lekker te lees, maar ek dink die onderwerp
is ernstig genoeg dat meer ernstige taal die doel beter sou gedien het, veral
met die vele sosio-politiese mymeringe.
Die
beste ding van hierdie skryfstyl is dat dit my noop om vinnig te lees, half
aangejaag deur die soeke na feite van die saga, omdat ek oor sinne en paragrawe
bokspring om die filosofie te vermy en om die verhaal te volg.
Taamlik
na aan die begin van die boek is daar 'n versugting oor die stand van kultuur
in Kaapstad in die vroeë jare Tagtig, toe rebellie na bewering in die lug was
en die eerste saadjies van die later openlike weerstand gesaai is onder die
ondergrondse en alternatiewe skrywers, dramaturge en akteurs in Kaapstad. Onder
andere meld Koos die Indaba klub aan die bo-punt van Waalstraat, maar
ongelukkig maak hy allerlei feitelik-verkeerde stellings daaroor. Ek raak moeilik hieroor aangesien ek deel was
van die groep gereelde Indaba besoekers wat omtrent elke Vrydag- en Saterdagnag
daar uitgehang het en dus ietsie van die geskiedenis en omstandighede daarvan
weet.
Kom ons
kyk na die feitefoute.
- Indaba het nie in die vroeë Tagtigs bestaan
nie; dit is in 1986 van stapel
gestuur.
- Daar was nie 3 of 4 “mezzanine floors” soos
Kombuis beweer nie. Daar was 'n ingang op straatvlak met 'n nou gang na
die eweneens nou trappe wat mens na bo geneem het, 'n tussenvloer waar die
sogenaamde VIP lounge was, en dan die groot oop vertrek wat die middelpunt
van die feestelikhede was, met 'n groot kroegtoonbank, DJ hokkie, klein
verhoog en dansvloer. Heelbo, op die
dak, was daar 'n geboutjie met 'n
kleiner kroeg (en 'n massiewe matras in die een hoek) en 'n snoekerkamer. Die res was 'n oop dak waar ‘n mens kon
uithang en oor Waalstraat of Buitegrachtstraat uitkyk.
- Koos onthou dat hy Corporal Punishment (James
Phillips se eerste rock groep) vir die eerste keer by Indaba ervaaar het.
Ek twyfel. Sover ek weet het Corporal Punishment het nie eers meer bestaan
toe Indaba sy deure oopgemaak het nie.
- Die vierde feiteflater is die verwysing an
Benny B Funk and the Sons of Ghadaffi Barmitzvah Band as 'n Kaapstad
groep. Sover ek weet, was Benny B Funk (of eintlik Benny B Flat Funk)
absoluut 'n Johanesburgse spul, een van vele plaaslike groepe soos The
Dynamics en die latere Honeymoon Suites (beide werklik van Kaapstad) wat
hard gepoog het om jazzerige funk musiek te maak en met wesenlike energie
gespeel het, maar nie juis die funkstryd kon wen nie. En gewoonlik op
groove gekonsentreer het ten koste van melodie.
Ek
neem aan dat Kombuis se geheue hom in die steek gelaat het as 'n geval van: as
jy die Kaapstad jol van die Tagtigerjare kan onthou, was jy óf nie daar nie óf
jy was en, soos ek, nie juis 'n drinker of jointroker nie.
Dit klink
vir my of Koos Kombuis in 'n drank- of dwelmverdoofde waas gelewe het in sy
strydjare en dat sy herinneringe nie is wat hy voorgee hulle is nie.
Die DJ
musiek by Indaba was basies die populêre rock van die era. Die bekendste groepe
van die tyd uit Kaapstad en Johannesburg het gereeld daar opgetree. Die mense
wat daar uitgehang het, was moontlik die glitterati en hoof rolspelers van die
kultuursfere van Kaapstad, maar daar was netsoveel ordinêre jollers. Daar was
'n groot aantal gereelde Indabagangers, moontlik omdat daar nie veel keuse was
nie. Ek het André Letoit nooit daar raakgesien nie, maar aan die ander
kant het ek hom glad nie geken nie en sou hom dus nie herken het nie.
Een
van Kombuis se herinneringe oor die Indaba wat wel akkuraat is, is dat baie
mense daar dagga gerook, gesoek of aangebied het. Wildvreemde mense (meestal jong dames) het my by verskeie
geleenthede gevra of ek enige dagga het. Ek het skaars gedrink, wat nog te sê
dwelms gebruik, en dit het my verstom dat 'n persoon 'n lukrake wildvreemdeling
kon vra vir iets wat hoogs onwettig was.
Soms het ek gewonder of die
navrae eintlik polisielokvalle was.
‘n Verstommende
ding wat ek uit die eerste deel van die boek geleer het, was dat ek en André Letoit moontlik
met dieselfde vrou, Elaine Durbach, seks gehad het. Hy maak 'n lysie van vrouens met wie hy al op
een onder vlak deurmekaar was, en waarskynlik gebof het, en Elaine is op die
lysie. Sy was in die laat Tagtigerjare 'n rubriekskrywer vir die Cape Times en
ook vryskutskrywer vir vrouetydskrifte.
Ek het
Elaine in Januarie 1989 ontmoet, kort nadat ek klaar was met my jaarlange stryd
teen kanker en heelwat chemo-terapie, en my skedel was steeds bar van hare. Beide
van ons was gaste by ‘n sogenaamde Living Newspaper aand by die destydse Albow
Centre in Harfieldstraat, Kaapstad, wat aangebied is deur my destydse
werkgewer, wat my aan Elaine voorgestel het. Dit het gelei tot 'n kort romanse.
Ek was smoorverlief omdat sy die eerste vrou was met wie ek seks gehad het, en
sy het my kort daarna afgesê omdat sy 'n ouer man wou hê om haar as vaderfiguur
te help deur die trauma van 'n onlangse romantiese teleurstelling. ‘n Ander
faktor was dat sy 6 jaar ouer was as ek.
In elk
geval, nou kom dit my voor dat ek en Koos Kombuis iets besonder interessant in
gemeen het. Hy meld nie wanneer hy met haar deurmekaar was nie en dit sal
interessant wees om te weet. Elaine het
nooit André le Toit gemeld nie, maar
sy het my ook nie vertel van al haar minnaars ne, behalwe die ou by wie sy vir ‘n
jaar gewoon het, en haar hart gebreek het, en Le Toit was in die laat
Tagtigerjare waarskynlik slegs in sy eie kring legendaries.
André
Letoit en die jonger Koos Kombuis was bekende karakters in die ondergrondse,
alternatiewe kultuur in Suid-Afrika in die Tagtiger- en vroeë Negentigerjare,
maar myns insiens hoofsaaklik as gevolg van sy boheemse, armlastige bestaan soos 'n wafferse
intellektuele litirator wat weier om sy bestaan of visie te kompromiteer deur
iets so banaal soos 'n betrekking. Hy
het nie vir die Staat gewerk in 'n lae vlak posisie nie, hy was nie in die
akademie nie, hy het nie enige beroep gevolg of vir 'n baas gewerk nie. Hy het
geskryf, liedjies gemaak, dwelms geneem, gedrink, genaai en soms van die hand
tot die mond aan die lewe gebly.
Ek het
van André Letoit kennis geneem as kortverhaalskrywer vir Huisgenoot (dit mag as
Le Roux Du Toit gewees het) en as digter, en was baie gou van mening dat sy
Huisgenootverhale briljant was omdat hulle so anders was as die gewone romantiese
verhale wat in die tydskrif gepubliseer is, en dat sy digkuns maar tweederangs
was, al kon ek sien dat hy 'n talent het vir die gebruik van hedendaagse
spreektaal om homself in Afrikaans uit te druk. Die swakheid in sy digkuns het
egter die sterkpunt geword in sy lirieke.
In die
jare 1986 tot moontlik 1988 het iemand Shifty Records plate enb kassette
verkoop by die Groentemarkplein vlooimark waar ek kort na vrystelling die oudiokasset
van Ver Van Die Ou Kalahari, André Letoit se musiekdebuut, gekoop en was
matig beïndruk daardeur. Kort daarna het
ek die launch party vir die album awt by die Jazz Den in Soutrivier gehou is,
bygewoon. Daar was nie baie van ons nie en my raaiskoot was dat die ander
teenwoordige sy maters was eerder as lede van die nuuskierige breër publiek. André Letoit het voorgekom as ietwat skugter en nie besonde
suave of sophis nie en het homself op kitaar begelei terwyl hy die liedjies op
die album vertolk het. Omdat die vertolking so presies soos die opgeneemde
weergawes geklink het, het dit my gou verveel en ek is huistoe halfpad deur die
aand.
In
vroeg 1989 het ek 'n skoolvriendskap met Flip Swiegers hervat. Hy was deel van
die Letoit kring en het allerlei staaltjies oor hom vertel. Hulle was soort van
vriende, of ten minste op vriendskaplike voet, en het in dieselfde kringe in
Stellenbosch beweeg. Die indruk wat ek van Letoit gekry het uit Flip se
vertellinge was van 'n randfiguur wat ietsie meer as 'n boemelaar was, die gawe
gehad het om allerlei mense en veral vrouens te beïndruk met sy sjarme en geniale
talent, of so-iets, en so aan die lewe
kon bly en deel kon wees van die kultuurlandskap.
Piekniek
By Dingaan, die musiekblyspelsamewerking tussen Letoit en Johannes Kerkorrel,
was vir my die eerste kennisgewing van 'n deurbraak van die sogenaamde nuwe
Afrikaner omdat dit 'n zeitgeist weerspieël het van ontevrede en gatvol jong
Afrikaners. Dit was vreemd dat dit by die Nico Malan Teater op die planke
gebring is, synde die KRUIK hoofkwartier en middelpunt van establishment
Afrikaanse teaterkultuur in Kaapstad.
Natuurlik
was Piekniek jou tipiese kabaret, op ‘n groot verhoog en in ‘n groot saal, met
humor, satire, patos en musiek. Verskeie van die liedjies was later deel van
die Gereformeerde Blues Band se reportoire.
Ek het gedink dit het beteken dat Kerkorrel die wesenlike talent van die
twee was en dat André Letoit die meeloper was wat steun op reputasie as
vervreemde en semi-boemelaar eerder as op talent of vaardigheid.
Al was
die liedjies op Ver Van Die Ou Kalahari interessant en vol melodie, was
my indruk dat hulle geskryf is deur iemand wat 'n obsessie gehad het met sy eie
legende-in-wording en nie skaam was daaroor nie. Die stukkies vertelling tussen
liedjies het die effek van 'n tuisgemaakte opname versterk en ek neem aan dit
was 'n berekende effek.
Dat Ver
Van Die Ou Kalahari op Shifty Records vrygestel is, was waarskynlik die
grootste deurbraak aangesien daar nie juis iets was wat daarmee vergelyk kon
word in die algemene kader van Afrikaanse musiek van daardie tyd nie, om nie te
praat van die sogenaamde alternatiewe musiek oor die algemeen nie. Ek dink dat
hierdie versameling liedjies moontlik vergelyk kan word met Fokofpolisiekar se debuut album ongever
25 jaar later. Dit is verstommend dat die aanvanklike deurbraak so lank geneem
om die suurdeeg effek volledig te laat werk. Die outjies uit Bellville het
bloot besluit dat elektriese kitare en rammelende tromme die ding is, eerder as
solo akoestiese kitaar.
Letoit
het natuurlik besef dat hy sukses kan behaal as hy hard werk aan die slyp en
bemarking van sy handelsmerk, homself, eers as Letoit en later as Koos Kombuis.
Miskien was alles toevalllig en het dit uitgewerk half teen die stoutste
verwagtings in, maar ek het my bedenkinge daaroor. Die man is nie enigsins
onder 'n kalkoen uitgebroei nie en as enigiemand eers tot die innige besef kom
dat daar 'n gehoor is vir hom, sal hy werk daaraan om daardie gehoor te behou
en uit te brei, en in die Suid-Afrika van die Tagtigerjare was dit nie moeilik
om jou merk te maak as andersdenkende nie, omdat daar so min van hulle was wat
kop bo die loopgraaf uitgesteek het. En nog minder wat dit poog doen het as
populêre vermaaklikheidskunstenaar, al was die potensiële gehoor nog nie die
establishment of die welaf middelklasburgers wat hy en hulle vandag is nie.
Volgens
Koos is Bloedrivier (2008) sy tweede protesalbum Ver Van Die Ou Kalahari is blykbaar
die eerste een. Interessant genoeg is hulle omtrent 20 jaar uitmekaar opgeneem
en in radikaal verskillende omstandighede. Met sy debuut was dit Koos en kitaar,
met die latere album was dit Koos and heavy friends (hy spog self daarmee) en
met verbeterde tegnologie. En, ons moet nie vergeet nie, sy omstandighede was
ook wesenlik anders; inderwaarheid, heelwat beter.
Die
groot konseptuele verskil is dat Koos met Bloedrivier hewig te velde
trek, uit sy hedendaags-gemaklike middelklaslewensuitkyk, teen die ANC regering
en dié se soustrein en gebrek aan handhawing van wet en orde en onwilligheid om
enigiets aan korrupsie te doen of om inderdaad die voorheen agtergeblewenes op
te hef. Meestal is dit 'n middelklas Witman se protes teen die dinge wat sy
lewe negatief raak. Die wiel het sonder twfel gedraai, maar aan die ander kant,
Koos was altyd anti die regering van die dag. Die ding is dat hy toentertyd ver
buite die establishment gestaan het en dat hy nou reg in die hart daarvan leef,
al is daardie establiskment nie meer die regerende establishment nie.
Ek
moet ook sê dat ek nooit aan Ver Van Die Ou Kalahari as 'n protesalbum
gedink het nie. Dit was 'n interessante versameling liedjes, meestal oor die
verskeie vrouens in Andre Letoit se lewe, en daar was “Boer In Beton” wat vir
my soos 'n Boereloflied geklink het waarmee ek myself glad nie kon vereenselwig
nie. Die grootste protes van die album
was iets soos “Ontug In Die Lug” waar André sy verbreking van die destydse Onntugwet
beken het, deurdat hy 'n seksuele verhouding oor die sogenaamde kleurskeidslyn
gehad het. Of moontlik meer as een van hulle.
Waarteen
het André Letoit geprotesteer? Die gebrek aan blootstelling op die populêre
kultuurfront? Gebrek aan standhoudende inkomste om hom in sy boemelbestaan te
ondersteun? Ek neem aan daar was definitief 'n algemene gevoel van
onvergenoegdhied onder die Afrikanerjeug en jong mans wat Diensplig moes verrig
en moontlik as infanteriste aan 'n onsinnige grensoorlog deelneem. Ek vermoed
ook dat 'n groot deel van die bitterheid
en ongelukkigheid nie juis oor apartheid of kragdadigheid per se gegaan het
nie, maar oor die gevolge daarvan, naamlik die knellende internasionale
sanksies, die voortslepende opstande, die ekonomiese sorge en die vermoede dat
dinge nie beter gaan word nie en dat die Nasionalistiese bittereinders se
weerstand so futiel sou wees as wat dit in 1901 was. Die Afrikanerjeug het die
wil om te oorwin en te regeer verloor en wou net die goeie, kommervrye lewe hê
wat die apartheidsisteem veronderstel was om vir hulle te waarborg en wat
stadig maar seker besig was om in die niet te verdwyn.
Op die
keper beskou was André Letoit nie ver van die
mense wat in die laat Sewentigs “Musiek & Liriek” bedryf het nie, behalwe
dat hulle ordentlike middelklas mense was met hoge kultuur ideale, waar Letoit
die populistiese ideaal nagestreef het, amper soos David Kramer, dog nie
heeltemal gemik na die laagste gemene plattelandse deler nie. Kramer het besef,
lank voor die Afrikaanse musiektoneel die reus geword het wat dit nou is, dat
die Afrikaanse gehoor groot, entoesiasties en lojaal is. Dit was 'n vreemde
paradoks dat 'n Joodse outjie, weliswaar 'n soort-van-Boerejood uit Worcester,
die Boere hartland kon verower met sy volksgemikte liedjies.
As
mens nou na Letoit of Koos Kombuis luister, is daar heelwat David Kramer in die
liedjies, maar steeds uit 'n verstedelike oogpunt en nie heeltemal die
platteland van Kramer nie. Kramer was van die begin af algemeen-beskaafd en
geen eksotiese randfiguur boheem nie. Koos Kombuis moes die pad loop van die
diep agtergrond tot die voorgrond, deur die alternatiewe kultuur van sy tye en
nou is hy volksbesit. Moontlik was sy eerste protes dat hy nie onmiddellik 'n
reuse populêre gehoor kon lok nie.
Koos
Kombuis spreek veel lof uit vir James Phillips.
Wie Is Bernoldus Niemand? was blykbaar die katalis wat André Letoit laat voel het hy moet 'n kassetband van sy
liedjies na Shifty Records stuur. Kombuis bewonder Phillips se musiekopleiding
en vaardighede en dink blykbaar dat die Cherry Faced Lurchers 'n wonderlike
groep was. Ek verskil. Die belangrike ding is nie dat James Phillips 'n
musiekgraad gehad het of musiek kon lees nie. Die belangrike vraag is of Phillips
musiek met enige werklike hart en siel gemaak het en nie bloot vaardigheid
gebruik het as dekmantel nie.
My
opinie is dat die Cherry Faced Lurchers verhoogervaring besonder pynlik was en
hul enigste album, Live at Jameson's, een van die irriterendste
luistervarings is in Suid-Afrikaanse musiek. Die mense kan eenvoudig net nie
ruk en rol nie en ek gee nie om hoeveel akkoorde jy kan speel of hoeveel note
jy kan lees nie as jy nie weet hoe die ding te ruk nie. Bernoldus Niemand was die
man; daardie album verdien al die lof wat daaraan toegeswaai kan word. Enige
vorm van Cherry Faced Lurchers of The Lurchers se musiek moet in 'n argief
gebêre word en stof vergader.
Die
beste ding wat James Phillips ooit vir Suid-Afrikaanse musiek gedoen het, was
om kitaar te speel vir die groep musikante wat Koos Kombuis ondersteun het in
die opneem van Niemandsland ... en Beyond, en saam met hom getoer
het om die album bekend te stel. Dit is miskien waar Kombuis werklik 'n skuld
het om aan Phillips te betaal, nie vir wat Phillips self vermag het nie, maar vir
die inspirasie en ondersteuning. Niemandsland was die ware eersgeborene
van die Afrikaanse rock revolusie, al was daardie eersgeborene jare voor sy
tyd.
Dit
blyk duidelik uit Kombuis se eie perspektief dat die revolusie begin is deur
disfunksionele persone uit disfunksionele agtergronde met besonder baie woede
in hul psiges en 'n dryfveer om iets op die openbare verhoog te doen, hetsy om
'n geldjie te maak hetsy om die beheerstrukture bietjie te tart, of bloor vir die
pret, met die verstommende gevolg dat daar 'n honger gehoor was vir hierdie
soort ding. Dit wil sê, 'n ander soort Afrikaanse musiek en houding.
In
laat Tagtigerjare Kaapstad was daar 'n lewendige musiektoneel (miskien ook
vroeër, maar ek het eers vanaf 1984 werklik daarby ingeskakel) en daar was elke
Vrydag- en Saterdagaand iewers 'n optrede deur 'n plaaslike, alternatiewe rock
groep, Saterdagmiddae by die Brass Bell en dikwels was daar ook iewers op 'n
Woensdagaand 'n gig. As mens enigsins in die tipe van ding belanggestel het,
was daar 'n wye keuse.
Al
hierdie rockgroepe was alternatief tot die hoofstroom en deel van 'n counter
culture omdat hulle marginaal was. Dit
was 'n uitsondering om 'n album van jou musiek vry te stel, selfs op kasset
soos André Letoit, en ek dink nie dat
veel van hulle enige geld gemaak het uit hul optredes nie. Dit was nie daardie
soort van nering nie. Die musikante het musiek gemaak omdat hulle wou en
gelukkig was daar heelwat blootstelling in die verskillende klubs van die Kaap.
Die lingua franca van die rockgroepe was Engels. Daar was 'n groot
Afrikaanssprekende gemeenskap in die Kaap, baie van hulle uit Stellenbosch
afkomstig, maar aanvanklik was daar nie juis iets vir hulle spesifiek nie. Die
jollers en musikante mag net so veel Afrikaans as Engels gewees het en tog het
niemand daaraan gedink, of die vrymoedigheid gehad, om Afrikaans te sing nie.
Die
aanvanklike impak van André Letoit moes te danke gewees het aan ietsie meer as
net sy liedjies. Daar moes ook die element van familiariteit gewees het. Meer
as die gewone musikante het hy voorgekom soos iemand wat sopas, op die omgewing
van die oomblik, 'n kitaar opgetel en begin speel het. Hy het gelyk soos die tipiese lede van sy
gehoor en het hard gewerk aan grappige, gevatte opmerkings tussen liedjies en
het by geleentheid amper meer gepraat as wat hy gesing het. Sy lirieke was in praat Afrikaans en hy was
bereikbaar. Jy kon vir hom 'n bier koop en met hom gesels met 'n joint in die
hand.
Ek was
nooit by die Black Sun nie en het maar net daarvan gelees in Vula! tydskrif,
die maandblad wat Suid-Afrika se destydse weergawe van The Face was. Nie dat
hulle veel geskryf het oor wat by die Black Sun gebeur het nie, maar die
vermelding was daar en dit was duidelik dat die Black Sun ervaring ietwat van
'n kultus was vir ingeligte lede van die Johannesburgse hip set.
Ek was
wel by een van die Piekniek by Dingaan optredes in die Baxter Teater in
Rosebank, Kaapstad, en nie by die Nico Malan Teater se optredes nie. Volgens Koos was daar net een week se
optredes by die Nico en toe het Piekniek 'n vroeë dood gesterf. My herinnering, tot dusver, was dat ek Piekniek by die Baxter gaan kyk het,
maar Koos meld dit nie in sy boek nie en ek het dus besluit dat my geheue nie
meer so goed was nie, totdat Flip Swiegers bevestig het dat daar wel hierdie
een opvoering by die Baxter was. Ek was daar, hy was daar en 'n groot groep van
die jong alternatiewe groep in die Kaap
was daar.
Piekniek
by Dingaan was die hoofstroomopvoering wat ten minste in die Kaap daarvoor
verantwoordelik was dat die name van Johannes Kerkorrel en André Letoit bekend
geword het. Dit was waarskynlik deels as gevolg van die kwaliteit en inhoud van
die produksie en deels as gevolg van die feit dat KRUIK,wat die stuk aangebied
het, dit 'n skielike dood laat sterf het na die Grahamstadfees sukses. Na die
kort speelvak van 'n week in die Nico Malanteater het KRUIK die prop uitgetrek
en dit was die laaste sien van die blikkantien wat die hoofstroom betref het. Dit is nie op toer in die platteland gestuur soos Letoit gehoop het nie en ek sou
raai dit is omdat die meer gesofistikeerde Kaapse gehore die satire en nie
noodwendig onsubtiele aanval op die regime beter sou verstaan en waardeer as
die plattelandse hartland van die Nasionalistiese Party. Of moontlik was daar
eenvoudig 'n direktief van die Staatspresident se kantoor dat Piekniek by
Dingaan nie die soort van ding is wat meer as net minimum blootstelling moes
kry nie.
Kombuis
bespiegel nie hieroor in sy vertelling oor hierdie artistieke triomf in sy
loopbaan nie. Dis ‘n leemte. Ek sou raai hy moes destyds al geweet het wat die
motivering was of ten minste 'n goeie raaiskoot sou kon maak.
Die
gevolg van die afsterwe van Piekniek by Dingaan as hoofstroom belewenis was dat
die Voëlvry ding begin het. Volgens Kombuis het dit beteken dat hy en Kerkorrel
besluit het om eerder 'n rock benadering te
volg en weg te bly van formele kultuurinstansies. Dit is dus een van
daardie onbedoelde gevolge van 'n daad (die staking van verdere produksies
van Piekniek by Dingaan) wat 'n heel
ander doel gehad het, naamlik die verdoeseling van Letoit en Kerkorrel se
talente en ontdoening van verdere openbare blootstelling daarvan.
Die
grap, natuurlik, is dat Letoit nie juis geruk of gerol het nie. Hy het by
eenmansoptredes met akoestiese kitaar gehou, ten minste tot Niemandsland opgeneem
en vrygestel is, en Kerkorrel het sy kabaretneigings poog vermom met behulp van
elektriese kitare en dawerende dromme wat sy aanbieding amper soos rock laat
klink het en tog nie was nie. Dit was bloot
rock kabaret.
Ek het
'n vae herinnering aan die Piekniek by Dingaan opvoering. Daar was 'n stellasie
op die verhoog, vele akteurs wat rusteloos rondbeweeg het en aan die stellasie
gehang het, elektriese kitare en besondere entoesiasme en 'n gees van
rebelsheid teen “dis sisteem” wat vreemd was aangesien KRUIK absoluut deel van
die sisteem was en ek nie sou kon dink dat KRUIK so 'n produksie in die eerste
plek sou goedkeur nie. Ek onthou “Ons Ry
'n BMW,” en “Hillbrow” wat vir my die hoogtepunt van die vertoning was.
Kerkorrel alleen op die verhoog wat homself met die trekklavier begelei en die
treffend woorde en melodie sing. Dit is waarskynlik sy beste lied en definitief
een van die beste beskrywings, naas moontlik “Bomskok Babelaas” van Koos
Kombuis, van die eertydse Hillbrow wat 'n boheemse, randakker mengelmoes van 'n
stadsparadys was, voor Yeoville en Mellville populêr geraak het as middelklas
kultuur enklaves.
Die
Baxter saal was stampvol. Dit was amper vreemd dat hierdie opvoering sulke
groot aanhang kon verwerf, en wat nog vreemder was, was dat 'n beduidenisvolle
deel van die gehoor Engelssprekend was. Hierdie aspek was die aanduiding wat
vir my die gevoel gegee het dat Piekniek 'n groter deurbraak is as wat ek sou
gedink het. As dit net 'n alternatiewe Afrikaner kultusproduksie was wat die
gesofistikeerde Afrikaanse gehoor gelok het, alhoewel in groot getalle, sou dit
'n effektiewe voorbeeld van een of ander deurbraak van die openlike uitdrukking
van Afrikaner onvergenoegdheid gewees het. Dat ook Engelssprekendes, wat
waarskynlik onder gewone omstandighede nooit enigiets by die Nico Malan sou
bywoon nie, wat nog te sê 'n Afrikaanse produksie, Piekniek in betekensivolle
getalle ondersteun het, het vir my beteken dat ons hier mer 'n fenomeen te doen
het en dat jong Afrikaners en jong Engelssprekendes, ten minste in Kaapstad,
meer in gemeen gehad het as wat ek of hulle sou vermoed het. Almal was gatvol
vir wat die Nasionale Party besig was om met die land te doen en niemand het
enige hoop vir die toekoms onder daardie regime gehad nie en almal was bereid
om op een of ander wyse protes aan te teken of bloot solidariteit te toon met
ander wat protes aanteken. Ten minste was dit 'n sus van die gewete vir diegene
wat nie in bannelingskap gegaan het om Diensplig te ontduik of ondergronds gegaan
het om die gewapende stryd te voer nie, sodat hulle kon reken daar is 'n
vereenselwiging met die konsep van winde van verandering wat weereens stadig
maar seker die atmosfeer begin versteur het.
Aangesien
KRUIK die sprekende voorbeeld was van die verwikkeling van politiek en kultuur
en saam met die ander streekskunsterade die hegemonie gehad het oor hoge
kultuur in die provinsies, die geld gehad het en absoluut die establishment
verteenwoordig het waarteen Letoit en sy makkers beswaar gemaak en gerebelleer
het, is dit waarskynlik 'n voorbeeld van Letoit se versugting van geld en sy
gebrek aan ware solidariteit met sy vriende in die Noorde, dat hy by bKRUIK
aangeklop het vir ondersteuning, maak nie saak hoe ondermynded die konsep van
sy musiekstuk sou wees nie. Letoit het die werklikheidsbesef gehad dat slegs 'n
instansie soos KRUIK die kans sou bied vir 'n deurbraak na die hoofstroom, en
die gevolglike algemene aanvaarding en finansiële sukses.
Toe,
moontlik voorspelbaar, die hoofstroom, soos deur KRUIK se bestuur
verteenwoordig, en mens kan dink dat daar allerhande intense binnekring
gesprekke was om die besluit te maak en af te dwing, Letoit en Kerkorrel se konsep onaanvaarbaar vind as vermaaklike
aanbieding vir die Boerenasie buite Kaapstad, het Letoit besluit, en dit lyk
vir my net so opportunisities soos sy besluit om 'n voorlegging aan KRUIK te
maak, om terug te keer na die boesem van sy makkers in Yeoville en om die
sogenaamde ruk en rol roete te
loop.
Daar
is heelwat leemtes in Koos Kombuis se weergawe van die Voëlvry storie en
heelwat stukkies vertelling of mymering wat lyk of dit daar is bloot om bladsye
vol te maak omdat die res van die storie so dun is. Ek neem aan dat Koos
Kombuis se geheue van wat gebeur het nie so goed is as wat dit kon wees nie
omdat hy deurentyd te veel gedrink en te veel dwelms geneem het. Dis 'n
jammerte omdat meer detail oor die binnekringaktiwiteite van die Voëlvrygroep
interessant en insiggewend sou gewees het, soos byvoorbeeld presies hoe die
toer saamgestel is, meer staaltjies oor die optredes, ensomeer.
Op een
plek maak Kombuis melding van hoe die toer verskeie mense laat muteer het tot
vreemde gestaltes en die enigste voorbeeld wat hy gee, is Piet Pers wat in 'n
hond verander het. Verder vertel Kombuis
ons van sy eie paranoia en vervreemding wat veroorsak is deur sy sterstatus.
Hoe is die ander lede van die geselskap geraak? Hoe het hulle psiges vervorm en
moontlik uitgehaak? Óf Kombuis oordryf
en dis net Pers wat verander het, óf hy
is weereens skuldig daaraan dat hy 'n bewering maak wat hy nie kan staaf nie,
moontlik mdat hy nie onthou nie of moontlik omdat hy dit opgemaak het.
In
plaas van tersaaklike besonderhede mors Kombuis ons tyd met onsinnige
vertellinge van kontemporêre aktiwiteite soos sy
besoek aan Schalk Joubert en sy wonderlike Kenna kofffie en die haal van
brandhout in Jamestown. Die koffiestorie
is sommer net nuttelose tos. Was Kombuis op dwelms? Met die Jamestown
verwysing, wil Kombuis moontlik 'n sosiopolitiese punt maak, maar dit val plat.
Dit gaan oor sy huidige jmddelklas bestaan. Wie stel daarin belang? Ons will
weet van die gebeure rondom Voëlvry.
Aangesien
Koos Kombus (oënskynlik) 'n hele boek
geskryf het oor die aanloop tot Voëlvry, die toer self en die nagevolge daarvan,
sou ‘n mens dink dat hy meer moeite sou doen om Voëlvry te konsentreer, maar
dit lyk vir my sy storie is maar dun en dat hy nie veel navorsing daaroor
gedoen het nie, soos byvoorbeeld om ou koerantberigte te gaan naspeur, of om van
sy eie foto's te gebruik om die teks toe te lig. Hy het sulke foto's en is,
volgens hom, te heilig op sy privaatheid om hulle te gebruik, na bewering, en
dis onverstaanbaar. Hoekom skryf hy hierdie boek as hy nie die hele waarheid, of
meer daarvan, wil vertel nie?
Dalk
is A Short Drive To Freedom ook net 'n opportunistiese poging om nog 'n geldjie
te maak uit die een legendariese faset van die man se lewe.
Dit is
bisar dat Koos Kombuis vir ons wil waarsku teen dwelmgebruik. Hy beweer dat hy
nou vir iets soos 14 jaar lank dwelmvry is, of
moontlik vir so lank teen sy verslawing gestry het. Sover ek verstaan
was hy 'n geharde rooiwyndrinker en daggaroker, dog nie soveel verskillend van vele
van sy tydgenote nie. Hy is nie oop en eerlik oor welke ander dwelms hy gebruik
het nie en waarop hy spesifiek verslaaf was nie. My raaiskoot is dat daar ook
heelwat coke en speed beskikbaar was en hy sou hom waarskynlik hierin verlustig
het as dit aangebied was. Hierdie tipe
dwelms verklaar die paranoia en vervreemding wat hy tydens die toer begin voel
het, maar ek verstaan dat ook dagga paranoia en vervreemding kan veroorsaak.
Dis
wat ek bedoel met die gebrek aan eerlikheid en openlikheid. As Koos te veel coke geneem het, dit nou nie
meer doen nie en die jeug van die dag
daarteen wil waarsku, hoekom bieg hy nie behoorlik nie? Die ding is dat dit
lekker is dwelms te neem en ‘n mens moet dit nooit vergeet nie. Die tweede ding
is dat dwelms (veral ‘n oormaat daarvan) ongetwyfeld sleg is vir vir jou en daardie
harde feit moet ‘n eweneens nooit vergeet nie, wn ook nie dat die comedown
gewoonlik wesenlik onangenaam is. Beproef alles en behou die goeie; moenie dink
dwelms gaan jou lewe op die langtermyn beredder en beter maak nie.
'n
Tweede interessante verbintenis tussen my en Koos Kombuis is sy vriendskap met
ene Tjaart, wat op 'n tyd sy woonstelmaat was. Dit klink soos die storie van
die Tjaart wie se tragiese verhaal ek by monde van Flip Swiegers gehoor het.
Flip
was ook deel van die Letoit / Kombuis kring en was so geintegreer daarin dat hy
in 1989 vir Letoit na Knysna geneem het vir een van die laaste vertonings van
die Voëlvrytoer. Hierdie reis en optrede, wat Kombuis
natuurlik warskynlik nie onthou nie of nie as betekeniosvol genoeg beskou om te
herroep nie, was blykbaar 'n avontuur van rampe en minder gawe ervarings.
Ek het
nooit Letoit via Flip ontmoet nie, maar ons het hom 'n paar keer in die Spur
restaurant in die Gardens Centre gesien sonder om hom te pla. My enigste
gesprek ooit met Letoit was in die Bakoven koffiewinkel in die destydse Trustbanksentrum
in Stellenbosch, toe ek daar gaan koffie drink het voor of na 'n hofverskyning
(namens 'n kliënt) in die plaaslike Landdroshof. Terwyl ek daar gesit het, het Letoit ingekom
en by ‘n tafel in 'n ander hoek gaan sit. Omdat ek hom op daardie stadiuj al so
baie op 'n afstand gesien het, en Flip so baie van hom gepraat het, het ek ek gevoel
dat Flip hom een of ander tyd aan my gaan voorstel en dat hy dan sal onthou dat
ek gedurig op sy periferie was in verskeie openbare plekke, en ek moet sê, dit
het vir my absoluut vreemd begin word dat ek en André Letoit so baie by
dieselfde plekke uitgehang het. In elk geval, alhoewel dit seker nie sin gemaak
het nie, het ek gedink ek moet myself aan Letoit gaan voorstel, vir geval Flip
eendag so ver sou kom en dan sou dit ongemaklik wees om te verduidelik hoekom
ek so veel kere in sy nabyheid was sonder om iets te doen om myself bekend te
stel. Wel, dit was my redenasie. Ek het
opgestaan, in my netjiese grys prokureurspak, en myself gaan voorstel, gemeld
dat ons 'n vriend in gemeen het, en iets komplimentêr oor sy werk gesê en vinnig geretireer na my tafel. Letoit
was vriendelik en waarskynlik verward oor die motivering vir my ietwat
nuttelose bekendstelling.
Tot op
hierdie dag weet ek nie wat my besiel het nie. Ons het nie in 'n diep, innige
intellektuele gesprek verval nie, ons het mekaar daarna nooit eers weer gesien
waarvan ek kan onthou nie. Dit was sommer net 'n simpel ding. Ek kan nie eers
onthou of dit voor of na Voëlvry was nie.
Ek kan dus nie beweer dat ek ooit hoegenaam in enige veskyningsvorm 'n
vriend of selfs kennis van Letoit of Kombuis was nie.
Ewenwel,
soos ek die storie oor Tjaart gehoor het, was hy in die middel Tagtigerjare
werksaam by die destydse KPA en het dit reggekry om vir Flip daar 'n werk te
bewerkstellig. Tjaart het saam met sy vrou in die Unieparkomgewing van
Stellenbosch gewoon terwyl hy in Kaapstad gewerk het en hy moes elke
werksoggend dou voor dag al die pad van sy woonstel na die Stellenboschstasie
stap om die trein te haal. Dit was
blykbaar ietwat sieldodend en lewensverterend en het vir my geklink
soos 'n nagmerrielewe.
Volgens
Kombuis het hy en Tjaart 'n woonstel in Yeoville gedeel en ek weet nie mooi
wanneer dit was nie aangesien ek die Tjaart verhaal eers iewers in 1989 gehoor
het, maar omdat hy in daardie jaar selfmoord gepleeg het, moes dit dan in die
vorige paar jaar gebeur het. Ek neem aan dit sou gewees het lank voor hy by die
KPA gewerk het.
Tjaart
se tragiese lewe het net so tragies geëindig. Hy is blykbaar 3 keer kort na
mekaar vir die besit van dagga gearresteer. Die laaste keer was in 'n
padblokkade iewers op die Tuinroete.
Flip het my hiervan vertel en my regsmening daaroor gevra, veral omdat
dit die derde arrestasie was en die kanse dus was dat Tjaart nou, as three time
loser, tronkstraf sou kry en, as ek reg onthou, was die hoeveelheid dagga van
so 'n aard dat die tronkstraf wesenlik sou wees.
Tjaart
is waarskynlik op borg uit die tronk ontslaan en is na sy ouers se plaas waar
hy homself op iets soos Nuwejaarsdag 1990 in 'n skuur opgehang het. Waarskynlik
omdat die vooruitsig op lang tronkstraf te erg was om te hanteer en dood die
beste uitkoms.
Volgens
Kombuis was hy op 'n manier aandadig aan Tjaart se dood, ten minste omdat hy
niks positief gedoen het om Tjaart in sy uur van krisis te ondersteun nie.
Onder andere blameer Kombuis sy eie dwelmverslawing vir hierdie gebrek aan
ondersteuning vir iemand wat op daardie stadium nie meer in sy kring beweeg het
nie.
Kombuis
het egter ook ander stories oor Tjaart wat na bewering klein bedraggies geld
van die Voëlvry loketinkomste gesteel het terwyl hy by die loket gewerk het, en
dat Tjaart die hoofverdagte was toe die toer se hele wins, blykbaar 'n
wesenlike bedrag kontant, verdwyn het. Dit is nog 'n Voëlvrystorie waarna
Kombuis skrams verwys sonder om enige besonderhede te verskaf en aangesien die
verlies aan die geld die verskil tussen wins en verlies beteken het, sou ek
verwag dat Kombui meer aandag daaraan sou bestee. Hy meld nie eens hoeveel geld
dit was nie. Weereens kan gebrekkige geheue die die sondebok wees vir die gebrek
aan detail, en dis hierdie leemtes wat so irriterend is en my die vraag laat vra
wat die punt en nut van die memoir nou eintlik veronderstel is om te wees.
'n
Verstommende langtermyn eggo van hierdie ramp, is dat min of meer dieselfde
ding Flip oorgekom het in 1998 toe hy en Margaret Follett 'n jazz konsert
georganiseer het by Margaret se huis in Muizenberg wat Flip toe by haar gehuur
het. Die konsert was 'n groot sukses en iewers in die loop van die aand het die
kontantinkomste van die gig, wat in 'n geldtrommeltjie gehou is, spoorloos
verdwyn. Net voor dit weggeraak het, het Margaret, en moontlik ook Flip,
bereken dat hulle R2000 wins gemaak het. Daar was allerlei agterdog oor een of
twee mense as die waarskynlike skuldiges, maar daar was geen klinkklare bewys
nie. Niemand was spesifiek verantwoordelik
vir die bewaring van die geld nie. 'n Bittter terugslag vir 'n
gebeurtenis wat andersins 'n groot sukses was.
My
verbintenis aan die sage van Tjaart eindig nie net met die storie van sy dood
nie. Op een of ander manier het Flip se destydse meisie, later eggenoot, Gael
Karp, die besitter geword van oorlede Tjaart se plateversamelng en versameling
boeke oor rock musiek. Ek het eers 'n hele ruk na Tjaart se dood van die
boeke gehoor. Gael het in 1993 geweeklaag oor die spasie wat die goed in haar
huis opneem en omdat ek self reeds teen daardie tyd al 'n goeie versameling beoek
oor rock musiek opgebou het, het ek vir Gael gesê ek sal die boeke en plate
neem. Volgens Gael het sy eintlik net 'n paar items oorgehou omdat sy oor 'n
tydperk meeste van die boeke weggegee het en nooit bewus was daarvan dat ek sou
belangstel nie.
Wat ek
wel gekry het, was 'n handjievol boeke en 'n paar plate. Die toestand van die
plate het my totaal verstom. Ek het altyd moeite gemaak om my plate en boeke in
die beste toestand moontlik te bewaar.
Tjaart se plate was in 'n skokkende toestand. In die eerste plek was die
plaatomslae vodde en amper flenters en in die tweede, en mees skokkende, plek, was
daar wat gelyk het soos bythappe uit die plate self. Hoe enigiemand so-iets aan
sy plateversameling kon laat gebeur, het my verstand te bowe gegaan. Daar was
Bowie se David Live en Talking Heqds se Telling Stories en nog
een of twee wat ek nie kan onthou nie. Die boeke was 'n versameling goedkoop
slapband biografieë van Britse popgroepe uit die Sewentigs, 'n versameling van
die joernalis Derek Jewell se artikels, die NME Encyclopedia of Rock, uit die
middel-Sewentigs en dan die Rolling Stone Record Guide, ook uit die Sewentigerjare.
Laasgenoemde is 'n slapbandpublikasie wat in drie stukke gebreek was en geen
omslag gehad het nie. Ek het die plate in
my versameling gehou tot middel 2009 toe ek al my plate weggegee het. Die boeke het ek nog.
As die
toestand van die plate en boeke enigsins getuienis was van die tipe persoon wat
Tjaart was, of die omstandighede waarin hy geleef het, moes hy inderdaad 'n
troebel siel gewees het. Ek sou hom graag wou ontmoet het omdat hy die enigste
ander persoon was waarvan ek ooit kennis geneem het wat blykbaar, net soos ek, soveel
in rock musiek belanggestel het dat hy geld spandeer het op die aankoop van
boeke oor die onderwerp, hetsy biografies van aard hetsy blote joernalistieke
artikels of die ensiklopedieë oor rock kunstenaars. Ek het van jongs af myself oor die geskiedenis
van rockmusiek opgevoed en Tjaart het waarskynlik dieselfde gedoen. Vir beide
van ons was dit nie net die musiek nie, maar ook die stories. Dis hoekom ek
boeke soos A Short Drive to Freedom koop.
Nog 'n
kennis wat ek met Koos Kombuis in gemeen het, is Jaap Yspeert, wat die melodie
vir “Losers Universe” op die Blameer Dit Op Apartheid album geskryf het,
en boonop ‘n liedjie vir die laat-Negentigs Stellenboscch groep White Trash
geskry het. Jaap is boonop ook 'n vriend
van Flip Swiegers en ek het hom by Flip se woonstel in Albert Court, Langstraat
ontmoet iewers in die vroeë Negentigs toe Jaap 'n bestaan gemaak het as smous
van allerlei handige items soos die rolling ruler en die miracle cutter. Jaap
het 'n kunsbeen en het nie goed gelyk nie, plankdun en met lang, vuil,
sliertige hare, en hy het vertel hoe hy meisies optel deur vir hulle in die
laatnag geleenthede aan te bied wanneer hulle by die Kaapse klubs gestrand was
na lang nagte van fuif. Vele jare later het Jaap sy eie motorwerktuigkundigebesigheid
bedryf in die indsutriële gebied agter
Stellenboschstasie, om die draai van die perseel waar die Springbok Nude Girls
hul musiek ingeoefen het, en het steeds allerhande planne gehad om geld te
maak, met of sonder Flip se betrokkenheid. Castrolboks kitare was een so 'n
plan.
Wat
dinge nog meer interessant maak. is dat ek jare nadat ek Jaap ontmoet het, sy ma ontmoet het aan't huis van my ma.
Jaap se ma was een van my ma se goeie vriendinne uit Die Boord. Ek sou raai dis
nog een van daardie verhale wat illustreer hoe klein die Stellenbosch/Kaapstad
spil is.
As ek
reg is, is beide Jaap en sy ma teen 2020 lank reeds oorlede.
Andre
Letoit / Koos Kombus was dus vir ‘n lang tyd omring deur randkarakters en
uitgewekenes uit algemeen-beskaafde samelewing en dit was die milieu waarin hy
tuis gevoel het, waarskynlik omdat hy vir lank nie werklik in homself as
waardige mens geglo het nie.
Na aan
die einde van A Short Drive to Freedom skryf Koos oor 'n gesprek wat hy met sy
vrou gehad het oor die betekenis, indien enige, van Voëlvry en vir hom blyk die
werklike betekenis en impak te wees dat hy daardeur beskadig is. Dus: vergeet van die universele impak op jong
Afrikaners en die apartheidregime of enige langtermyn kulturele aarde. Die
impak was streng persoonlik en eintlik meer op Kombuis as op die sameleweing as
geheel.
Hierdie
“insig” is hoogs dramaties en waarskynlik aangedik. Ek kan goed glo dat die
drank en dwelm lewensstyl waaraan hy verslaaf was, en die gedurige rondreis,
nie goed was vir hom nie, maar dit was die nadeel van die lewe van die
rondreisende musikant wat geen veilige hawe het nie en slegs in sy kokon leef
met die eenderdenkendes wat die kokon met hom deel. Dit was nie die gewaande
stryd teen die establishment of die regering of Broederbond, of wie ook al, wat
Koos Kombuis amper vernietig het nie. Hy
het homself amper vernietig deur sy lewenskeuses, in elk geval tot hy 'n
verhouding met sy vrou begin het.
Koos
en sy Voëlvry makkers het nie werklik jong Afrikaners vir die eerste keer laat
rook of dwelms neem nie. Studente het nog altyd dronk geword en teen 1989 het studente al baie algemeen
dagga gerook, miskien meer so in die groter stede as byvoorbeeld Bloemfontein,
maar ek verstout my om te beweer dat die Vrystaat nie immuun was nie. Studente
het ook nog altyd van luide musiek gehou, en heelwat van hierdie musiek was in
elk geval nie deur die dominees of skoolhoofde of selfs die kutluurhoofde
goedgekeur nie. Dit was bloot nuut en vreemd dat die ruk en rol in Afrikaans gesing
is. Die rebellie was inherent in tiener of student wees; die taal waarin dit
gebesig is, het begin verander.
Teen
die einde van die boek begin die Voëlvry storie uitrafel omdat Koos Kombuis nie
meer veel het om daaroor te sê nie en hy verval in mymeringe oor sy vrou, oor
sy huidige lewe, en vertel ons van slegte LSD trips (nugter weet hoekom), meld slegte
tye in Amsterdam (maar gee geen besonderhede nie) en 'n paar ure se
tronkverblyf in Namibië weens 'n administratiewe defek in sy paspoort. Nugter
weet wat enige daarvan met die punt van die boek te doen het, behalwe om
bladsye vol te maak. Daar is so baie
eliptiese verwysings dat ek wonder hoekom die skrywer so lui is en hoekom hy so
baie dinge skrams meld en dan swyg sonder om ons iets interessants te vertel. As
jy nie die storie kan of wil vertel soos
dit was nie, los dit heeltemal uit.
Moenie die ge-ykte metode volg van aptyt wek deur te beweer dat die Amsterdam
ervaring so erg en so boos was dat hy nie eers daaraan wil dink nie, wat nog te
sê daaroor te skryf nie. Hoekom de hel doen hy dan die moeite om hierdie pielprikkelspeletjie
met die leser te speel?
Ek
dink nie Wie Is Bernoldus Niemand? was die begin van Afrikaanse rock
nie. As dit nie Anton Goosen se eerste 4
albums was nie, met Liedjieboer en Jors Troelie spesifiek, dan is
dit Niemandsland ... en beyond (1988) waar Andre Letoit agtergelaat is
en Koos Kombuis na vore getree het. Hierdie album is myns insiens die eerste
behoorlike, bevange, Afrikaanse rock album. Goosen was nog te veel met Boerepop
behep en Eet Kreef is bloot Kerkorrel se kabaret rock artifak (en nie
wat Kombuis beskryf as “shit hot kick
ass rock and R & B” nie) en derhalwe, veral met die persepsie wat
nabetragting bring, kunsmatig en gans te gepoleeer. Niemandsland is die
ware Jakob.
Ek het
in vroeg-1989 omtrent al die Niemandsland toer se optredes in Kaapstad
en omgewing bygewoon en het gedink Koos Kombuis, ten spyte van die simpel Rasta
pruik en “Afrika” kleredrag (deesdae is cultural appropriatoin doodsonde), was
die beste ding wat die Suid-Afrikaanse musiektoneel in 'n lang tyd getref het.
Dit was briljant, innoverend en inspirerend. Kombuis se solo akoestiese optredes by die
Voëlvry konserte in die Kaap, was dus vir my 'n wesenlike teleurstelling. Die
solo Koos was saai, ongeag die grappies en die feit dat die gehoor hom aan die
lippe gehang het. Die solo Koos het geen impak gehad nie, geen woema gehad nie,
geen sinnigheid gehad nie.
Dit
was deels om daardie rede dat ek nog nooit weer die moeite gedoen het om die
man se optredes by te woon nie. Vir my het hy van die radar af verdwyn na
Voëlvry en tot en met die nuwe millennium. Dit was eers toe ek met my vrou
begin uitgaan het (in 2004) dat ek kennis geneem het van Elke Boemelaar se
Droom (1994), Mona Lisa en Blou Kombuis. Ek het die CD van Niemandsland iewers
tussen 2000 en 2004 gekoop, nadat ek begin het met my versameling van
Suid-Afrikaanse rock musiek, en nadat ek Karen Zoid se debuutalbum gtekoop het
en Piet Botha se Suitcase Vol Winter (1997) by my vriend Braam Botha
(geen familieverbintenis) geleen het.
Kort daarna het ek ook begin moeite doen om die nuwe Afrikaanse rock
musikante se musiek te bekom, soos Akkedis, Gian Groen, Jan Blohm, en
Fokofpolisiekar en hul nasate, en Skallabrak (wt nog die beste weergawe van
Kombuis se “Kytie” gedoen het) en Akkedis, en vele meer an die ouer garde, en
nou deesdae ook die nuwer siele op die Afrikaanse rocktoneel. En selfs Valiant
Swart, vir wie ek nie ooghare as sanger het nie en wat omtrent net 50%
suksesvol is met sy liedjies. Dit moet sy good looks en volharding met sy
loopbaan wees wat hom sukses gebring het.
Al
daai musiek se wortels moet teruggaan na Niemandsland ... en beyond, of
altans, dit hoort so. Die musiek van Voëlvry was oor die algemeen nie ekstreem
genoeg nie; ek dink nie die musikante het werklik iets nuuts behalwe die taal,
na die volk geneem nie; daar was geen verdelging van die ouer garde nie, geen
omverwerping van die regime nie. Die klimaatsverandering het plaasgevind omdat
die Nasionalistiese regering nie meer die
gat in die damwal kon toehou nie. Die winde van verandering het die nuwe
ontwaking van Afrikaanse kultuur veroorsaak en op sy manier het die verval en
uitwissing an Broederbondbeheer en kutluurhegemonie oor die land as 'n geheel
en die feit dat Afrikaans nie meer spesiale beskerming geniet nie, meer gedoen
vir die kultuur en vir Afrikaanse rock musiek as enigiets wat Letoit of
Kerkorrel of enige van hul maats ooit kon doen. Die alternatiewe Afrikaner revolusie was opportunisties
en het vordeel getrek uit die verlies van wilskrag deur die politieke en kulturelel
establishment.
Is
Short Drive To Freedom 'n goeie boek? Is dit insiggewend en vol noodsaaklike
inligting? Was dit die geld werd om te
koop en moeite werd om te lees?
Ek
besit 'n groot versameling boeke oor rock musiek en Koos se boek sal mooi in
daardie versameling inpas, net langs Pat Hopkins se boek, wat ek nog moet klaar
lees. Short Drive To Freedom is egter nie die mees bevredigend boek wat ek al
gelees het nie, hetsy as biografie, hetsy as historiese geskrif. Deel van my
ontevredenheid het te doen met die feit dat ek sommige van die plekke,
gebeurtenisse en ervarings geken en meegemaak het en dus op verskeie aspekte
met Koos se feite en opinies verskil. Hy
is egter in die gelukkige posisie dat hy die boek gepubliseer het en dus die
amptelike weergawe in die openbare oog kon plaas ongeag daarvan of dit 100%
akkuraat is en of die opinies waarde het. Hy is die oorlewer en die skrywer. Hy
is die lewende gesag.
Na my
mening is 'n wesenlike deel van die 256 bladsye eintlik tydmors. Ek stel belang
in die binnewerkings van die Voëlvry groep en die vertellinge oor Koos Kombuis
se lewe as rock ster in Suid-Afrika, en nie in sy huidige gemaklike lewenswyse
met prokureureggenote en kinders, en besoeke aan vriende wat na bewering puik
koffie maak nie. Dit voel werklik vir my
dat Kombuis nie genoeg herinneringe aan sy Voëlvryjare oor het om 'n boek te
regverdig nie en noodgedwonge die bladsye moes vul met mymeringe en
herinneringe oor periferale aangeleenthede, maar dan is daar soveel voorbeelde
van stories wat halfpad of elipties vertel word en bloot die nuuskierigheid
gaande maak sonder dat daar die bevrediging van 'n afgeronde, voltooide
vertelling is. Ek raai dat dit doelbewus so is en nie dat Kombuis lui geraak
het en die boek net so gou moontlk wou aframmel nie. Inteendeel, hy verwys 'n
paar keer na hoe meeilik dit was om oor
daardie vervloë jare te skryf omdat sommige van die gebeure so erg was dat hy
hulle nie meer wou onthou of op skrif wou stel nie. Nou, ek dink nie dat
daardie jare so erg kon gewees het nie. As dit wel so erg was, bly dan
heeltemal stil daaroor. Maar wat was dit? Koos Kombuis het musiek gemaak,
getoer, seks met baie vrouens gehad, te veel gedrink, te veel dwelms geneem,
vervreemd gevoel van sy medemens. Wat is so erg hieraan? Dit was sy lewe, ten
goede of ten kwade, en hy het dit oorleef en dit agtergelaat. Dit klink of hy
nou soort van skaam is vir daardie sogenaamde jare in die wildernnis, terwyl
dit die jare is wat die legende help bou het en wat van Koos Kombuis gemaak het
wat hy vandag is. Ongelukkig hou hy blykbaar nie van die nuwe jong Afrikaanse
musikante soos Jack Parow en Die Antwoord, bloot omdat hulle iets heeltemal
anders doen as wat hy doen, en moontlk ook omdat hulle nie deur dieselfde
wildernisstruwelinge hoef te gesukkel het nie.
Koos
Kombuis klink nou soos een van die soort mense wat destyds hul kinders
gewaarsku het teen mense soos Koos Kombuis.
No comments:
Post a Comment