Die Mystic
Boer (1997) en Maanhare (2002) is vyf jaar uitmekaar uitgereik en is
myle ver van mekaar in konspe en uitvoering, al is dit dieselfde naam op die CD
omslag. Op die ouer album word die musiek gemaak deur 'n trio en Valiant speel
al die kitare en doen dit nogal goed, en het vet pret met sy country rock
aanslag. Op die nuwer album word Swart begelei deur 'n reeks musikante en is in
dieselfde rustige luim as 'n Jaar in Die Son, die samewerking met Koos
Kombuis.
Mystic Boer ly aan al
die probleme wat ek met Valiant Swart het. Hy skryf pseudo-digterlike lirieke
in die Engelse Afrikaans wat my grensloos irriteer en hy kan of nie wysies
skryf nie of hy kan hulle bloot nie sing nie. Die album se eerste snit is 'n
bravuro instrumentele nommertjie wat so goed en so vol fors en vertoon is dat
mens bang is dat die eerste indruk vernietig gaan word wanneer Mnr Swart
uiteindelik begin sing. Gelukkig bly hy stil en laat slegs sy kitaar die
praatwerk doen. Dit is die beste ding van hierdie album, en van die ander uit
daardie era: die kitare raas en donder
en is ritmies soepel en oormeesterend en mens kry tog daardie ruk en rol
gevoel.
Maar die man kan
nie sing nie. Hy is op sy beste met 'n wulpse riff en 'n soort van resitasie
van sy woorde; wanneer hy wel ppog sing, kom hy sleg kort. Die Valiant Swart
Band, met iemand soos Gerald Clarke sou onkeerbaar gewees het.
Die titelsnit was
lang jare die laaste nommertjie van enige verhoogoptrede en het epies en
bevange geklink as kitaarfees en as mens
nie kon verstaan wat die man sing nie. Ek moet egter erken dat ek altyd
gepla was deur hierdie boer fiksasie, wat later ook in Piet Botha se werk
tevoorskyn gekom het, omdat dit my laat dink het aan 'n gewapende Boer wat teen
die Khakis baklei en nie juis aan die wingerdboer van die Wes-Kaap nie. Hierdie
jingoisme was nie vir my nie. Dit was ou nuus en het geen plek gehad in die
Suid-Afrika waarin ek woon nie. Nie in 1984 nie en glad nie in 1994 of 1997
nie.
Nou is dit die
laaste liedjie op die album, en daar is steeds ietwat van 'n aanwendsel van
geforseerde grootsheid daaraan, maar die epiese kwaliteit word verinneweer deur
die simpel woorde.
Liedjies soos
“Slangdans”, “In Die Transvaal” en “Weeskind van die Weste” is ou bekendes in
ander gewaad as waaraan ek gewoond was. Veral “Weeskind” wat met akoestiese
kitaarbegeleiding gedoen word, kllink heelwat varser en sterker as voorheen.
Dit is die ding van die musiek. Dit maak die album, dit is hoekom mens luister.
Dit is hoekom ek vir so lank al die Valiant Swarrt Band se optredes bygewoon
het. Dit was goeie, opruiende ruk en rol en dit was goed om te weet dat hierdie
Afrikaanse musiek is en nie Myne en Jan is nie.
Vyf jaar na Mystic
Boer het Valiant Swart klaarblyklik besluit dat hy nou ouer, meer volwasse en
gevestig is as vermaaklikheidsbekende en dus 'n meer rustige album moet maak
wat meer by sy volwasse gehoor, wat nie meer sulke luide musiek kan waardeer
nie, sal pas. Altans dis hoe dit klink. Die goeie nuus is dat die nuwe sagte
stem en meer rustige benadering Swart se stem beter pas en die karige melodieë
meer ondersteuning bied.
Die ondersteunende
musikante, soos Simon Orange, Schalk Joubert, Anton L'Amour en Barry van Zyl is
van die beste wat Suid-Afrika het en hulle werk wonderlik saam met die
ster. Die aksent is op die groove, wat
hoofsaaklik lig en swaaiend is, soos iets tussen jazz, swing en backbeat blues.
Iets soos “Diep In Die Bos” waar daar samesspel tussen bottelnek kitaar,
Hammond orrel en een van die beste ritmeseksies in Suid-Afrika 'n snit skep wat
van die beste is wat Swart al ooit opgeneem het. Gelukkig is dit ook
hoofsaaklik sonder sy stem, maar omdat hy nie melodie poog sing nie, werk selfs
sy bydrae.
Die ding bly dit:
as Valiant eenvoudig bly en nie bo sy vermoëns poog strewe nie, is hy sonder weerga. “Moeilikheid
Met Die Man” is een van my gunsteling Valiant Swart opnames omdat dit so vol
lewenslus is, so vol brio is en die gebrek aan singvermoë nie saak maak nie
aangesien die liedjie se deuntjie so eenvoudig is dat mens dit na een of twee
keer se speel maklik onthou en dit singbaar in die stort is.
Daar is nie juis
enigiets op óf Mystic Boer óf Maanhare wat mens bybly nadat jy
die albums klaar geluister het nie. Die waardering wat mens het vir die musiek
oorleef net in daardie paar minute wat 'n spesfieke snit speel.
No comments:
Post a Comment